Bemarking

Geagte Kommandoleiers, AKL’s Administrasie en AKL’s Bemarking,

Hiermee net ‘n samevattende e-pos oor die verskeie bemarkings gereedskap wat in die laaste paar weke op verskeie platforms gesirkuleer was, maar dit blyk nie dat dit almal bereik het nie.  Aangeheg aan hierdie epos vind asb.:

  1. PDF afskrif van die “ouer inligting stuk” – daar is nog ongeveer 10,000 van hierdie pamflette beskikbaar en die Gebiedsleier of onderskeie AGL’s wat in die eerskomende paar dae by of Oord vergaderings of die PV/Voorslag opleidingsdag sal wees sal pakke van hierdie pamflette beskikbaar hê vir kommando’s.  (Maak dus seker iemand van jou kommando (of Oord) kry vir jou ‘n pakkie). Andersins kan die pdf uitgedruk word.  Die Korporatiewe Identiteit van hierdie pamflet sal nou vernuwe word sodra al die huidige voorraad uitgegee is.
  2. PDF asook “Whatsapp” afskrifte van die “JUIG” advertensie van Januarie 2020, met blanko areas regs onder vir eie kommando inligting.
  3. “Youtube” skakel na die generiese nuwe bemarkings video wat Laeveld Kommando goedgunstiglik vir ons gemaak het.  Baie dankie Laeveld en Hannelien Somers! Stuur die skakel sommer op alle platforms wat julle gebruik uit asb.  https://youtu.be/QZsmtp-5sRg
  4. ‘n Generiese Afrikaanse “CANSA SHAVATHON” advertensie vir gebruik deur Kommandos om hul individuele Shavethon aksies aan hul plaaslike gemeenskappe te bemark.  Gebruik die wit blok onder vir julle inligting en gaan groot met die “Ons Glo om te dien” tema!  Weereens dankie aan Hannelien Somers vir die ontwerp.

Kuifie en vriende

Dan wil ons alle kommando’s herinner om asb van ons Kuifie; FAF of Arthur die Renoster kostuum pakke gebruik te maak vir bemarkings of kommando aksies.  Soos voorheen gevra is die enigste koste moontlike koerier koste, asook baie foto’s op sosiale media. Ek kan jul verseker die kinders gaan mal om saam met hierdie karakters te dans, pret te hê en foto’s te neem!  Daar is egter so ‘n aanvraag, vir veral Kuifie, dat julle asb dringend moet bespreek!  Om hierdie rede gaan ons vir Transvaal se oorde nog ‘n ekstra Kuifie maak, net om seker te maak jul kanse is beter om ‘n Kuifie in die hande te kry vir die datum waarop julle ‘n aksie saam met hom beplan!  Bespreek Kuifie asseblief by Samantha ([email protected]) of Bianca ([email protected]).  Ons dank aan die FAK wat Kuifie en sy vriende vir ons “administreer”.

ARISS Ruimteprojek

Laastens wil ons graag Die Voortrekkers se “ARISS” projek aan almal bekend stel. ARISS staan vir “Amateur Radio In Space”. Die Voortrekkers is gekies as slegs een van agt skole of jeugorganisasies, ter wêreld, om vanjaar per amateur radio met die ruimtevaarders op die Internasionale Ruimtestasie te praat.  Dit gaan plaasvind tydens die Maart vakansie en die gebiedskamp wat gekies is om die kontak te bewerkstellig is SPDW.  Tien kinders (wat uiteraard goed Engels kan praat) wat die “Ruimtewaarneming” kenteken doen sal gekies word om elkeen ‘n vraag aan die ruimtevaarders per amateur radio te vra. (Ons moes reeds ongeveer 30 vrae aan die sielkundiges by NASA deurstuur sodat hulle die finale 10 vrae kan keur). Die SA Amateur Radio Vereeniging staan ons by om seker te maak alles verloop vlot die dag.  Die finale dag en uur moet nog deur NASA deurgegee word, maar ons vermoed dit sal êrens tussen die 24ste en 27ste Maart wees.  Ons wil hierdie projek egter ‘n nasionale blootstelling vir alle Voortrekkers maak!  Die tegniese kenners is besig om te kyk hoe ons die geleentheid “lewend gaan stroom” via Faceboek of ander sosiale media platforms, sodat ander kampe of Voortrekkers dit kan meemaak.  Verder het ons eie Kuifie besluit hy gaan ook ruimte toe!  Ons is besig om sy ruimte helm en suurstof tenk te maak en hy wil graag vir die 30 dae voor die geleentheid (dus vanaf 24 Februarie) saam met verskeie kommando’s “aftel” en saam met hul interessante ruimtewaarnemings of kommunikasie aksies beleef.  Ons daag dus elke kommando uit om weer fisies saam met Kuifie, (of virtueel met fotos) aan ons aftel deel te neem en ons jul unieke pret aksies te wys.  Laastens gaan ‘n 2020 “Voortrekker/NASA/ARISS” gedenk poskaart ontwerp word wat by die Voriemol beskikbaar sal wees.  Ons wil asseblief vra dat kommando’s hierdie projek ondersteun, sommer ‘n klomp poskaarte aankoop en hul jeuglede vra om agterop vir die ruimtevaarders ‘n briefie te skryf of ‘n prentjie te teken.  Ons hoop om ten minste 1,000 poskaarte aan hulle hoofkantoor by NASA te stuur.  Dink net die verbasing en ongeloof wat hulle gaan ervaar, die dag as hulle terugkeer aarde toe en hul ontvang ‘n possak met 1,000 unieke poskaarte vanaf die Suidpunt van Afrika!  Hou asseblief ons Webblad en sosiale media platforms dop oor die volgende paar weke vir die verskeie reëlings en aksies, veral as die aftel begin en dinge begin “warm en vinnig” raak!

Dis vereers al maar ons hou u op hoogte!