Die Voortrekkers Transvaal: Prosedures rakende COVID-19

Hierdie dokument is opgestel om riglyne te bied

  1.  rakende die hantering van COVID-19 en
  2. die uitvoering van die riglyne soos deur die parlement bepaal.

Dit is nodig dat alle Voortrekkerbesture; spanoffisiere, organiseerders van aktiwiteite en kampbesture van Die Voortrekkers Transvaal hulle vergewis van die inhoud van die prosedures en ook handel volgens die riglyne wat deur staatskoerante gepubliseer word.

Hierdie protokoldokument is van toepassing op alle bestuursliggame, Voortrekkerlede en  organiseerders van aktiwiteite binne Die Voortrekkers Transvaal.

Hierdie dokument is ondergeskik aan enige statutêre wetgewing en regulasies wat afgekondig kan word deur die Suid-Afrikaanse regering.

Die Voortrekkers Transvaal: Prosedures rakende COVID-19

Transvaal 2021 verwelkomingsbrief

2020 was ‘n jaar van uitdagings en aanpassings. Almal het uitgesien na ‘n “normale” 2021; die realiteit is egter dat die uitdagings, veral rakende Covid-19 nie minder is nie en ons is terug op ‘n vlak 3 van inperkings as gevolg van stygende Covid-19 getalle. Ons het egter al aangepas en weet min of meer wat om te verwag van die regulasies en inperkings.

2021 is ‘n groot jaar vir Die Voortrekkers want ons is vanjaar negentig (90) jaar oud…

Lees die res van die brief hier: 2021 Tvl Verwelkomingsbrief

Kantoordame pos is beskikbaar

Transvaal Voortrekkers nooi alle belangstellendes uit om aansoek te doen vir ‘n kantoordame pos op kontrakbasis.

Die taak omskrywing van die pos behels onder andere die volgende:

  1. Bestuur van Kommune – onder andere, maar nie beperk tot die volgende – hantering van navrae, bemarking, hantering van aansoeke en kontrakte vir verhuring.
  2. Voortrekkerterreine – onder andere, maar nie beperk tot die volgende – hantering van besprekings, algemene navrae en skakeling met terreinbestuurders.
  3. Toerusting beheer – onder andere, maar nie beperk tot die volgende – algemene bestuur en beheer van alle voortrekkertoerusting.
  4. Finansies – onder andere, maar nie beperk tot die volgende – algemene ondersteunende diens rakende finansiële transaksies namens Die Voortrekkers Transvaal en in opdrag van die gebiedsbestuur.
  5. Administratiewe take onder andere, maar nie beperk tot die volgende
    1. Hantering van algemene navrae rakende voortrekkers, voortrekkerkommando’s, aktiwiteite, ens.
    2. Hantering en uitreiking van sertifikate soos goedgekeur.
    3. Hantering en verwerking van inskrywings (bv. Voorslag en PV ens) soos ontvang.
    4. Hantering en verwerking van lederegistrasies.
    5. Hantering van algemene en logistieke reëlings rondom vergaderings.
    6. Algemene korrespondensie.

Vaardighede vereis: Rekenaargeletterdheid insluitend MS Word, Excel en Outlook (Microsoft produkte), kommunikasievaardighede, taakgedrewe en selfdissipline. Kennis van Voortrekkeragtergrond mag tot voordeel wees.

Die vergoeding is onderhandelbaar.

Aansoeke sluit op 15 Januarie 2021 @12:00.

Alle belangstellendes kan hulle CV’s stuur na AGL Administrasie Elsa Schnetler [email protected]

Covid-19 en Transvaal Voortrekkers

Ons het 2020 op 31 Desember finaal gegroet en 2021 het pas begin en almal verneem van verdere inperkings en ons hoor van talle geliefdes wie weens Covid-19 gegroet moes word!

Maak seker dat jy weet wat die nuutste regulasies bepaal en bly veilig.

Onthou tans vereis die Covid-19 Regulasies die volgende van my en jou:

  1. Sorg dat jy saans vanaf 21:00 tot 06:00 tuis is.
  2. Dra jou masker in die openbaar, want daarsonder sal iemand ‘n boete moet betaal!
  3. Handhaaf jou sosiale afstand tussen groepe mense, so 1.5-2 meter!
  4. Was jou hande dikwels en gebruik jou “handsanitiser”.
  5. Onthou die Regulasies meld: Geen sosiale byeenkomste vir twee (2) weke, 15 Januarie 2021. Daarna sal die betrokke bepaling weer heroorweeg word! Dus, moenie nou daardie groot kommando waatlemoenfees of kommandokamp beplan tot en met middel Februarie 2021 nie.
  6. Vermy brandpuntareas in Gauteng, Noord-Wes, Limpopo en kuier gerus by die Vaaldam en gerus by DeBank wat nie in ‘n brandpunt area is nie.

Transvaal se Covid-19 taakspan vergader gereeld en meer as dikwels via skype om te koukus oor die beste maniere om seker te maak dat almal veilig saam kan wees …  Ons respekteer die Regulasies ter wille van ons gesondheid en sal sorg dat almal op hoogte bly van die inperkings en Regulasies!

Bel jou mede voortrekkervriende en kuier gerus saam oor ‘n stomende koppie koffie of heerlike melkskommel en gesels met mekaar!

Gelukkig sien ons in die Voortrekkers uit na ‘n aksiebelaaide jaar vol Kultuur, Avontuur in die Natuur!

Die Voortrekkers is vanjaar negentig (90) jaar oud en ons wil groot gaan!

Ons kan die volgende doen te midde van die beperkende Regulasies met: “Gaan groot in kleiner groepies!”

Ja, ons KAN!

Ons kan in kleiner groepies spanbyeenkomste en spankampe op veilige afstand geniet in die natuur!

Kom weg voor die rekenaars en geniet uitstappies in die natuur!

ZOOM, Skype en Teams het sy plek en dit kan ons baie help, maar niks is lekkerder as heerlike aktwiteite in die natuur met die son wat ons vitamiene D aanvulling laai!

En hier die rede vir my versoek: Kom ons vra elke kommando om net drie (3) aktwiteite te noem wat ons in kleiner groepe kan doen! Kom ons maak dit ‘n kompetisie en sien wie (Kommando) kan die beste voorstelle op die tafel plaas!

Stuur jou positiewe idees vir heerlike kleiner groep kuiers en aktiwiteite na Elsa Schnetler [email protected] of Riaan du Preez [email protected] 

Sluitingsdatum vir jou positiewe idees: 31 Januarie 2021.

Groete

Transvaal Voortrekkers

Hou Koers en kuier saam in kleiner groepies!

VORIESAAMTREK 2021

Die nuutste Covid-19 regulasies wat onlangs aangekondig is, plaas baie onsekerheid oor wat na 15 Januarie 2021 gaan gebeur, en dit het tot gevolg dat Voriesaamtrek 2021 ongelukkig gekanselleer word. Ons verstaan dat almal op hierdie stadium baie teleurgesteld mag wees, maar ons wil nie ons volwassenes se gesondheid onnodig in risiko plaas nie en ons hoop dat die aankondiging in die regte gees ontvang sal word.  Transvaal se Volwasse Sake Komitee gaan kliphard probeer om later in die jaar ‘n saamtrek te reël, wanneer die regulasies en vol jaarprogramme dit toelaat.

Neem asb kennis van die volgende:

  • Onthulling van Oord Embleme. Daar gaan steeds ‘n opening seremonie en onthulling van ons nuwe oorde se embleme plaasvind. Hierdie geleentheid word beplan vir 22 Januarie 2021 en gaan aanlyn plaasvind. Meer inligting en bevestiging van die datum sal weldra aan almal gekommunikeer word.
  • Opleiding. Sommige kursusleiers het wel aangedui dat hulle beplan om voort te gaan om kursusse aanlyn of op alternatiewe plekke aan te bied. Hierdie geleenthede sal natuurlik aan alle vereiste regulasies voldoen. Indien daar opleidingsgeleenthede ontstaan sal dit aan julle gekommunikeer word.
  • Terugbetaling van gelde. Die kommando’s en individue wat reeds betalings gedoen het, sal die gelde terug ontvang. Stuur asseblief ‘n bewys van betaling, asook jou bankbesonderhede, aan die Gebiedskantoor.

Aan almal wat ingeskryf het wil ons baie dankie sê. ‘n Besondere dank ook aan die kursusleiers en aanbieders wat reeds baie werk in hulle aanbiedings ingesit het. Dit word opreg waardeer.

Voriesaamtrek 2021 se Kampraad en Tvl Volwasse Sake wens elkeen ‘n voorspoedige 2021 toe. Kom ons stap saam die onsekere tye tegemoet en ondersteun mekaar, want Voortrekkers KAN.

Groete

KL Gerhard Gericke               Kampleier

AGL Dirk van der Berg           Adj. Gebiedsleier (Volwasse Sake)

 

Voriesaamtrek 2021

Die son het opgekom, die haan het gekraai en die hen het haar eerste eier gelê… Voriesaamtrek 2021 is uitgebroei en groei fluks!

As jy die groot nuus gemis het – Voriesaamtrek 2021 is volgende jaar, oudergewoonte op Hartbeesfontein, vanaf 22 tot 24 Januarie 2021.

Sluitingsdatum: 13 Januarie 2021

Skakel vir inskrywings:  inskrywings.voortrekkers.co.za

Kampkostes: Volwassenes: R350,00 en Kinders (PD’s en jonger): R260,00.

Kampbrief

Covid-19 Veiligheidsplan

FAQVoriesaamtrek2021

Transvaal Voriesaamtrek 2021

Die Voortrekkers Transvaal se jaarlikse Voriesaamtrek vind plaas gedurende naweek van 22 tot 24 Januarie 2021 te Hartbeesfontein.

Ons wil u uitnooi om te tender vir die spyseniering van die 2021 Voriesaamtrek. Ons verwag so tussen 200 en 250 volwassenes, maar finale getalle, kampprogram en tye vir etes en koffie/tee breke sal op ‘n later stadium deur gegee word.

Kombuis tenderproses en aansoekvorm

Die Voortrekkers Transvaal : Covid-19 en spanbyeenkomste

Goeie nuus … uiteindelik is Suid-Afrika op vlak 2! Die frustrasie met die Covid-19 inperking en die verbod op spanbyeenkomste en kampe of beperkte bymekaarkom geleenthede was tot op hede vir die lede van enige groep, veral vir ‘n kultuurorganisasie soos Die Voortrekkers, ondenkbaar en onhoudbaar. Ons mag nog nie in groot getalle kamp nie en mis ons voortrekkervriende.

Baie dankie aan elkeen wie getrou die regulasies eerbiedig het en soos altyd die reputasie van Die Voortrekkers beskerm het.

Die vlak 2 regulasies, soos uitgereik in die staatskoerant op 17 Augustus 2020, maak onder andere voorsiening vir die sosiale verkeer tot ‘n maksimum van tien (10) persone. Dit baan die weg vir spanbyeenkomste en spankampe.

Volgens die regulasies val Voortrekker aktiwiteite soos kommandokampe en groter groepaktiwiteite onder kultuur aktiwiteite en dus mag ons tans nie voortgaan daarmee nie.

Die volgende moet egter in plek wees vir elke spanbyeenkoms:

  1. Die spanbyeenkomste kan slegs aangebied word by die spanoffisier (of spanlid) se huis;
  2. Die kommandodagbestuur moet inkennis gestel word dat ‘n spanbyeenkoms gehou word;
  3. Dit is noodsaaklik / verpligtend om ‘n register by te hou waarin die naam, van en    kontakbesonderhede van elke spanlid en spanoffisier wat die byeenkoms bywoon, aangeteken word;
  4. Dit is noodsaaklik / verpligtend dat ‘n vrywaringsvorm voltooi moet word deur elkeen wie die spanbyeenkoms bywoon. Die ouers moet namens minderjarige jeuglede die vrywaringsvorm voltooi.
  5. Die nodige vraelys (voorbeeld sal beskikbaar gestel word op webblad) moet by elke byeenkoms voltooi en moet ingehandig word by die kommandodagbestuur;
  6. Die temperatuur van elke spanlid en spanoffisier moet geneem en op die betrokke vraelys aangeteken word.
  7. Hande moet met aankoms en met gereelde tussen pouse ontsmet / gewas / met handreiniger skoongemaak word;
  8. Gesigmaskers moet in die openbaar gedra word.
  9. Sosiale afstand moet gehandhaaf word.

Bo en behalwe die regulasies van die plek waar die spankamp plaasvind, moet die volgende egter ook in plek wees vir spankampe:

  1. Slegs spanne van maksimum tien (10) spanlede mag spankampe reël;
  2. Hande moet met aankoms en met gereelde tussen pouse ontsmet word;
  3. Dit is noodsaaklik / verpligtend om ‘n register by te hou waarin die naam, van en    kontakbesonderhede van elke spanlid en spanoffisier voorkom;
  4. Dit is noodsaaklik / verpligtend dat ‘n vrywaringsvorm voltooi moet word deur elkeen wie die spanbyeenkoms bywoon. Die ouers sal namens minderjarige jeuglede die vrywaringsvorm voltooi;
  5. Die nodige vraelys moet voltooi en moet ingehandig word by die kommandodagbestuur;
  6. Die temperatuur van elke spanlid en spanoffisier moet geneem en op die betrokke  vraelys aangeteken word;
  7. Gesigmaskers moet in die openbaar gedra word.
  8. Indien spankampe by kampterreine en / of spankamers gehou word met die volgende van toepassing wees:  Sosiale afstandhouding (Social distancing) sal vereis dat bv. ‘n vier (4) man tent slegs twee (2) persone mag bevat maw 50% besetting van kamer en tent moet gehandhaaf word; Vertrekke moet behoorlik geventileer word en Gesigmaskers moet in die openbaar gedra word.

Die huidige rampstatus, asook die impak daarvan op die skooljaarprogram; die relevante wetgewing met betrekking tot massa byeenkomste en die veiligheid van Voortrekkers word deurlopend gemonitor.

Dit bly nog steeds raadsaam om  kreatief te wees met E-aktiwiteite; mekaar telefonies te kontak; veilig en gesond te bly.

Navrae kan gerig word aan:

AGL Administrasie: Elsa Schnetler (082 707 2010 / [email protected])

GL Zandra Machin (082 923 5611 / [email protected])