Die Voortrekkers Transvaal : Covid-19 en spanbyeenkomste

Die frustrasie met die Covid-19 inperking en die verbod op spanbyeenkomste en kampe of beperkte bymekaarkom geleenthede is vir die lede van enige groep, veral vir ‘n kultuurorganisasie soos Die Voortrekkers, ondenkbaar en onhoudbaar.

Dit is egter nodig dat die reputasie van Die Voortrekkers beskerm word en dat die veiligheid van alle Voortrekkerlede en hul gesinne deurentyd in aanmerking geneem word.

Die Voortrekkers is ABCD mense en daardeur moet ons as positiewe burgers ons gehoorsaamheid aan die regering en enige regulasies bewys en verantwoordelik deur voorbeeld lei.

Dit is ‘n  realiteit dat daar reeds skole is aan wie toestemming verleen is om weer te open, met dien verstande dat die nodige maatreëls in plek is, wat onder andere insluit die dra van maskers, handhawing van afstand en die gebruik van handreinigingsmiddels. Die huidige infeksie statistiek wek egter groot kommer.

Vlak 3 regulasies soos uitgereik in die staatskoerant op 25 Junie 2020, maak onder andere voorsiening vir die opening van teaters, restaurante, bioskope, museums en biblioteke, nadat daar met die verantwoordelike kabinetminister gekonsulteer is. Volgens die regulasies val Voortrekker aktiwiteite onder kultuuraktiwiteite en dus mag ons nie tans voortgaan daarmee nie.

Gauteng is verder ook die nuwe epi-sentra en die risiko vir die verspreiding van die virus is té groot en daarom kan daar nie toestemming vir die hervatting van spanbyeenkomste en ander voortrekker aktiwiteite verleen word nie.

‘n Covid-taakspan is onder die voorsitterskap van GL Zandra Machin byeengeroep wie op daaglikse basis die situasie sal monitor en gereeld kommentaar en aanbevelings sal maak.

Die gebiedsdagbestuur is van mening dat die posisie in die platteland moontlik radikaal van die stede s’n mag verskil en daarom sal met rolspelers in daardie areas kontak gemaak word om die rampbestuur status te bekom.

Indien toevallige kontak tussen voortrekkerlede plaasvind moet dit geskied met die nodige Covid-19 protokols. Dis belangrik dat almal verstaan dat as gevolg van die risikos en die nasionale rampstatus, Die Voortrekkers se versekering nie enige dekking sal verskaf nie.

Dit is dus raadsaam om  kreatief te wees met E-aktiwiteite; mekaar telefonies te kontak; veilig en gesond te bly.