Oom Jakkie se Fietstoer

HL Danie Langner vertel van sy eerste afspraak met oom Jakkie: Op Donderdag 1 November 2018 het ek ‘n afspraak gehad met ‘n ene oom Jakkie van der Colf. In die dagboek staan hy wil my kom sien oor fietsry. Vreemd. Ek ken ‘n paar fiets idiome, maar oor die algemeen laat ‘n fiets nie my hart vinniger klop nie. In ons kamer staan daar wel ‘n oefenfiets, maar dit is net ‘n bron van huwelikspanning. Melanie sê gereeld en ongereeld ek maak daarvan ‘n klerehanger.

Toe oom Jakkie in my kantoor instap skat ek sy ouderdom enige iets tussen 75 en 85. Daar gaan ‘n lig op. Dit maak sin. Hy wil my kom sien oor die GESKIEDENIS van fietsry.

Jy kon my met ‘n veertjie omtik toe oom Jakkie duidelik en ondubbelsinnig aanmeld om manalleen vir die Voortrekkers van die Voortrekkermonument tot die Taalmonument sy fietsketting te laat sing. Die roete moet deur die Oos-Kaap, verby George en Hermanus loop en in Ceres draai, anders is die pad te kort. 2650 kilometer! Langs die pad wil hy soveel as moontlik Voortrekkerkommandos besoek en waar daar nie is nie, Voortrekkers bemark en nuwes stig. So iets het nog nooit in die geskiedenis van Die Voortrekkers gebeur nie. Ek moet bieg. Ek was eers verstom, toe skepties, ongelowig en realisties, terwyl oom Jakkie gelowig, optimisties en met vertroue die roete myl vir myl beplan het.

Oom Jakkie se motivering is eenvoudig: “Elke mens ongeag wie jy is, het drie dinge. Sommige het net een van en ander twee en sommiges selfs al drie van; Tyd, Talent, Bates. Om jou medemens of ‘n organisasie te help wat iets kort kom, kan mens een of meer van die drie dinge gee. In my geval het ek tyd op hande. Om my tyd nie nutteloos te laat verby gaan nie het ek besluit om tyd te gebruik om iets te doen vir die Voortrekkers. Ek kan nie anders nie as om te sê dit is ‘n uitsonderlike beweging. Kinders leer daar baie dinge. Ook om leiers te wees en om te dien. My doel is om die dinamiese Voortrekker beweging wyer bekend te stel en om fondse te werf wat hulle gebruik om diensbaar te wees.”

Nou is ons hier. Tien maande later. Amper by die wegspringblok. Die fiets is geolie en alles is gereed om die wiele te laat rol. Selfs Kuifie is opgewonde. Komende Saterdag, 17 Augustus, spring oom Jakkie 8:00 by die Voortrekkermonument weg en stop op 21 September by die Taalmonument.

Oom Jakkie is ‘n inspirasie en n voorbeeld van iemand met fikse denke en dade. Hy praat nie geskiedenis nie, maar trap tree vir tree nuwev geskiedenis. Die Voortrekkers is ‘n jeugbeweging waarin alle jongmense soos oom Jakkie baie welkom is.