Oom Koos de Swardt

Transvaal het afskeid geneem van Oom Koos de Swardt. Ons vereer hom met die plasing van die Raad van wyses gespreksessie asook die huldeblyk soos gelewer tydens sy begrafnis.

Begrafnis huldeblyk

Ons is hier om die lewe en nalatenskap van Oom Koos te vier.Daar word gesê dat dit wat jy op hierdie aarde agterlaat wys wat jy met jou lewe gedoen het. As ek so na die merkwaardige groep mense voor my kyk weet ek dat Oom Koos diep en besonderse dinge in sy lewe gedoen het.

Oom Koos was nie ‘n Voortrekker op skool nie. Hy het maar toevallig by die Voortrekkers beland as onderwyser. Toe hy nog prober uitkomkans vind en verduidelik dat hy nie weet wat om te doen nie, is daar vir hom gevra: “Ken jy die Voortrekker kode?”
“Ja” antwoord Oom Koos
“Nou gaan doen dit”
En hy het!

Oom Koos is vir my die versinnebeelding van dit wat die Voortrekkers in wese is. Oom Koos het die moderne Afrikaner, in besonder sy jeug, bemagtig om as positiewe Burgers en konsekwente Christene suksesvol te wees in hul roeping tot diens.

Hy het ons, van Penkoppe en Drawwertjies tot offisiere laat stap en sing, fondse insamel by die Magnoliadal kiosk, riete kap by Austen Robberts, die slag van Majuba laat herleef op Klapperkop, ‘n ossewa monument toe sleep, spansentrum bou (2 keer) en Volksspele hou.

Oom Koos het die Drie-enige God gedien. Oom Koos se woord was sy eer. Hy het almal oud en jonk, belangrik of nie, met respek behandel en belangrik laat voel.

Hy was so trots op sy taal en sy kultuurerfenis en het dit bevorder. Hy het vir ons plate gespeel, gedigte gelees, geneem na historiese plekke Kursusse aangebied en geskiedkundige dokumente saamgestel.

Hy het ons geleer uit die geskiedenis uit sy besonderse omvattende boekery en daarop voortgebou. Oom Koos het sy omgewing stad en natuur waardeer en bewaar en in ons dieselfde liefde en toewyding gekweek.

Oom Koos het leiding geneem alhoewel posisie en eer nooit vir hom belangrik was nie. Hy was nie betrokke by magspeletjies of verraad nie, maar het opgestaan vir dit waarin hy onwrikbaar geglo het.

Oom Koos was oplettend en weerbaar en het ons oë oopgemaak om raak te sien en voorbereid te wees.Hy was diensbaar tot op sy oudag en vir oud en jonk gewys wat diensbaarheid werklik beteken.

Oom Koos was vir my ‘n leermeester, mentor, ‘n vriend, ‘n steunpilaar en ‘n pa. Hy het gegee sonder agenda of rekening.

Hy het aan almal die son gegun wat oor hul geskyn het en sy entoesiasme vir die lewe was nie net aansteeklik nie, maar onuitblusbaar.
Ek kan met sekerheid vandag sê dat daar nie ‘n mens is wat met Oom Koos paaie gekruis het by wie hy nie n saadjie geplant het nie. Almal saadjies wat goeie vrugte dra.

Daarom sluit ek af met die woorde van Karen Jensen:
“You can count the seeds in an apple, but you can’t count the apples in a seed. When you teach you never know how many lives you will influence. You are teaching for eternity.”

Die beste huldeblyk wat ek aan hierdie merkwaardige man kan bring is om die saadjies wat hy in my met oop hand gesaai het, te laat vrug dra en te plant in almal met wie ek te doen kry. En so sal sy nalatenskap geslag tot geslag voortleef.

Kom ons almal dra die vlam wat so helder in hom gebrand het uit, en laat dit ‘n veldbrand van optimisme, goedheid, kennis, eerbaarheid en diensbaarheid word.

Oom Koos – ons sal koers hou!

Raad van wyses

Op 10 Februarie 2018 het Sonja Ahrens tydens die Raad van wyses funksie ‘n gespreksessie met hom gevoer.

Lees dit gerus hier: Raad van wyses gespreksessie

Hy het die afgelope drie(3) jaar getrou die Raad van wyses se funksies bygewoon.