Transvaal Kersfeesboodskap

Teen hierdie tyd van die jaar het die meeste gewone Voortrekkeraktiwiteite afgesluit. Die meeste Voortrekker energie gaan nou in beplanning vir 2019 en verslagdoening oor 2018 in. Dit is `n baie goeie ding dat ons jaarliks vir `n rukkie kan stilhou om die jaar en alles wat ons gedoen het, in oënskou te neem.
Ek dink egter dit is belangriker om nou regtig te rus en om te fokus op die dinge waarop dit werklik aankom. Die lang somervakansie hou vir ons in Suid-Afrika die belofte van Kersfees in. Elkeen wat al met die Verkennerspesialisasie “Kerkjaar” te doen gehad het, sal weet die laaste vier weke voor Kersfees is Advent – vier Sondae waarop ons as geloofsgemeenskap dink aan die naderende viering van die geboorte van Jesus.
Koos du Plessis het in sy lied “Somerkersfees” iets van ons eie Kerstradisie verwoord. Kersfees word by ons in die middel van die Somer gevier. Hier is min plek, behalwe in ons verbeelding, vir `n bebaarde Kersvader in `n dik rooi jas op `n slee, getrek deur takbokke. Soos Laurika Rauch in `n liedjie vra: “Bly hy (dit is kersvader) in Jeffreysbaai…?” Die wintersbeelde oor Kersfees wil maar net nie in ons versengende somerklimaat werk nie en daarom moet ons dit anders vier.
Die belangrikste van die viering is egter dat ons die woorde van die engel wat Lukas opgeteken het, ter harte neem, want hy bring `n evangelie – `n blye boodskap:
Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle `n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here.” (Lukas 2:10-11).
In die laaste vers van Somerkersfees het Jannie du Toit die refrein `n klein bietjie verander, sodat ons in hierdie dae saam kan sing: Christus kom, Christus kom! Gee aan God die eer.Skenk ons `n helder Somerkersfees, in hierdie land, o Heer!

Mag dit waar wees in jou lewe, waar jy ookal vanjaar die Kerstyd deurbring.                                            Willem Boshoff (Transvaal Geestelike Raadgewer)