Transvaal Voortrekkaktiwiteite en Covid-19

Covid-19 is deel van ons daaglikse bestaan en verg voortdurende en deurlopende aandag.

Vir daardie doel is ‘n Covid-19 taakspan, bestaande uit kundiges en medici, saamgestel om die gebiedsdagbestuur in Transvaal deurlopend te adviseer rakende die moontlike hervatting van voortrekkeraktiwiteite in Transvaal.

Die boodskap van President Cyril Ramaphosa op 12 Julie 2020, bevestig die erns van die pandemie en die prioriteit wat Covid-19 betref.

Die volgende is die verantwoordelike optrede vir ons voortrekkerlede:

1. Geen kontak-spanbyeenkomste en ander sosiale voortrekker aktiwiteite, wat spankampe en kommandokampe insluit, kan plaasvind nie. Behou goeie en nodige kontak met spanlede deur Whats-App en ander elektroniese platvorms.

2. Transvaal se PV kandidate kan nie in span -en/of- oordverband saam deelneem aan die PV webinaar van 7 tot 9 Augustus nie.  Individuele deelname is die verantwoordelike opsie.

3.  Transvaal Voorslagkamp sal nie tans tot en met einde September in Transvaal aangebied kan word nie.

4.  Slegs noodsaaklike dagbestuur-en-bestuursvergaderings kan plaasvind, onderhewig aan die nakoming van die Covid-19 regulasies.

5. In sekere areas, onder andere in die plattelandse gebiede, is die Covid-19 infeksie tans laag. Daar kan by die gebiedsbestuur aansoek gedoen word vir die hervatting van sosiale voortrekkeraktiwiteite. Sodanige aansoeke sal dan deur die gebiedsekretaris gestuur word na die betrokke Rampbestuursowerheid van daardie betrokke streek of area vir finale goedkeuring.

6.  Wees verder ook bedag dat die huidige regulasies bepaal dat niemand saans tussen 21:00 tot 04:00 mag reis nie.

Die Departement van Gesondheid se Covid-19 inligting is beskikbaar op die landingsbladsye van Transvaal Voortrekkers webblad https://transvaal.voortrekkers.co.za/ en die Nasionale webblad https://voortrekkers.co.za/

Die Voortrekkers is ‘n ABCD organisasie en almal se ondersteuning en verantwoordelike optrede sal waardeer word.

Groete en wees verseker dat die gebiedsdagbestuur alle Voortrekkers se belange en gesondheid op die hart dra.

Enige navrae kan gestuur word na die gebiedsekretaris, Elsa Schnetler ([email protected] / 082 707 2010)